Thursday, February 15, 2007

van 9:10 tot 9:32

Elke oggend so net na 9 stap ek by my voorhek uit oppad na Mission International om betyds te wees vir my klas wat om 9:50 begin. Dit word nou al 'n roetine met dinge en mense wat altyd dieselfde is, soos as ek so 10 tree van my huis af is dan sien ek die oupatjie wat gebukkend met sy kierie loop om sy kleindogter af te sien as haar kleuterskool bussie haar kom oplaai. Party dae het ek al gesien hoe die dogtertjie met oupa se kierie speel en oupa maar self met die grootste geduld so teen 'n slakkepas teen die bultjie uit sukkel. Een oggend verras hy my , toe hy my uit die bloute groet met "Good Morning" so nou groet ek hom ook elke keer as ek verby hulle stap, behalwe vandag, want toe het hy met sy rug na my gedraai met sy kierie in die "recycle" vullis gekrap. Ek wou hom nie onderbreek nie.

Dan is daar die man wat lyk asof hy uit 'n science fiction fliek ontsnap het ,om ook elke oggend daardie tyd in ons straatjie te kom stap. 'n Middeljarige heel aantreklike Koreaanse man, gewoonlik geklee in 'n suit met 'n lang swart jas. Hy stap altyd so doelgerig na sy blink motor en gewoonlik met 'n selfoon teen sy oor. Soms maak ons oogkontak, maar nooit 'n groet of 'n kopskud of iets nie - so asof hy ook dink ek het uit 'n fliek ontsnap.

Dan kom ek by die hoofpad met busse en karre en robotte en alles wat my kan herinder dat ek in 'n groot stad is. Ek moet die hoofpad kruis en gewoonlik stop ek by rooi verkeersligte en moet ek wag vir so 3 minute. Oorkant die pad is daar 'n gebou met twee groot Boedha standbeelde. Die een sit in 'n venstervertoning, so 'n groot wit/grys porselein met goue afwerkings en in die agtergrond 'n goue stralekransie en bo-op die dak sit nog 'n groter een met sy bleskop in die son, reen , sneeu en wind. In die begin was dit 'n aardigheid om die lompe beeld so te sien sit, maar vandag besef ek dat partykeer sien ek dit nie eens meer raak nie. Dit het my laat skrik, want kan 'n mens dan so gewoond raak aan so 'n volksvreemde omgewing waar alles waarteen jy in beginsel en geloof is dan so begin gewoond raak?

Die lig word groen ek stap oor die pad in 'n stiller straatjie in, met oorfoontjies in my ore luister ek na worship musiek en vat my gedagtes weer die pad na nog 'n ander werled. Ek dink toe aan hoe pastor Johnny se vrou my gisteraand in die kerk in 'n hoek gehad het met haar bekommernis oor my verkoue. Sy het gese^ ek moenie meer Rooibos tee drink nie maar eerder 'n tee gemaak van koring korrles (barley) en ek moet dit glo die hele dag lank drink en dan moet ek ook antibiotika kry. Ek het probeer verduidelik dis net 'n klein verkouetjie nog nie 'n kanidaat vir antibiotika nie, maar sy het volgehou....

Toe word ek terug gebring die werklikheid toe my oog 'n straatnaam bordjie vang wat se^ "An-gol" straat. Ek wonder toe wat dit beteken en of dit 'n verbintenis het met Angola, maar besef toe die kanse daarvan is seker so groot soos om 'n Afrikaanse koerant op die straathoek te kan koop. Ek kruis nog 'n pad en nog een alles gebeur sonder dat ek werklik dink wat ek doen en skielik word ek terug gebring na my omgewing met 'n effense geur van mieliepap, dit was van 'n klein winkeltjie wat rys kook en verwerk om ryskoeke te maak. Is ek dan al so lank weg dat rys soos mielie pap begin ruik? Ek luister na die musiek in my ore - "I surrender all" sing hulle en ek besef dat die gereiwe en gemaklikheid van 'n bekende lewe in SA eintlik maar bitter min is om te op te gee as mens dink aan wat Jesus opgegee het om van die hemel af op die aarde te kom woon as 'n gewone mens.... (dit help altyd om dinge in bietjie perspektief te sien)

Ek hoor 'n hoeter en sien 'n klein trokkie agter my wat wil verby kom in die nou straatjie en klim toe maar op die klein sypaadjie en wag dat hy verby kan ry. Terwyl ek wag sien ek toe 'n ander ou tannie wat ook in die "recycle" vullis rondkrap, maar besef toe sy het eintlik net 'n vuil teddie beer wat op die straat gele^ het op 'n ander hoop klere gesit en ek wonder toe of die beer by 'n kinderhuis gaan eindig of dit verbrand gaan word.... Die trokkie is verby en ek het die straat weer net vir myself maar skaars het ek net weer begin stap toe ek by nog 'n groot pad kom wat ek moet oorsteek en wag vir die rooi verkeersmannetjie om groen te word, en toe ek weer sien is ek by Mission International se gebou. Dis 'n groot nuwe gebou met 10 verdiepings ons is op die 6de vloer. Ek word vriendelik gegroet deur die jong man wat agter 'n toonbank sit (ek neem aan hy is soos die opsigter). Hy het opgestaan en 'n tipiese Koreaanse buiging gemaak as 'n manier van groet. Ek weet nooit regtig hoe om in sulke situasies terug te groet nie, maar het toe met 'n halwe buiging en 'n halwe handgebaar ook teruggeroet en hy het geglimlag (ek wonder wat hy gedink het). Ek wag vir die hysbak en volg toe 'n ouer man toe die deure oopgaan (weer besef ek die verskil in kultuur - want hier kom mans altyd eerste) Die oom, geklee in 'n suit het homself die hele tyd bekyk in die spieel en met my verkoue en al kon ek sy naskeer middel ruik - die deure gaan oop en ek stap by my kantoor in en wonder "wat 'n vreemd-bekende werled is dit nie"